Russiese dosent met passie vir Afrikaans sterf op 60

Kaapstad. – Andrei Ignatenko (60), wat van 1995 tot 2013 die hoofdosent in Afrikaans was aan die Moskouse Staatsuniversiteit vir Internasionale Betrekkinge (MGIMO), word as ’n pionier met ’n passie vir Afrikaans onthou.

Na verneem word, is hy op 19 Julie vanjaar aan ’n hartaanval oorlede.

In ’n onderhoud in 1990 het hy aan Charles Naudé gesê sonder ’n kennis van Afrikaans kan ’n mens die gebeure in Suider-Afrika nie verstaan nie.

Ignatenko se heengaan is ’n groot verlies; hy het ’n pioniersrol gespeel ten opsigte van Afrikaans in die buiteland, het Wium van Zyl, ’n skrywer en letterkundige verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), gesê.

Die Stellenbosse literator Ronel Foster het Ignatenko leer ken by die Afrikaansseminare van Luc Renders van die Hasselt-Universiteit in België, en by Neerlandistiekkongresse. “Hy het eenkeer vir my ’n gedenkmunt present gegee met Tsjechof se beeld daarop. Dit was ’n voorreg om hom te kon ken. ’n Besonderse man.”

Danksy Ignatenko se rol blý Afrikaans ’n studierigting aan die Moskouse Staats­universiteit (MSU) en die MGIMO, volgens ’n skrywe van Maria Jordan en Wannie Carstens.

Ignatenko was in 1990 die eerste Russiese dosent wat ’n groep Afrikaansstudente na Namibië en Suid-Afrika gebring het. Hulle het twee weke in Kaapstad deurgebring.

Carstens onthou dié studente kon hulle heel duidelik in Afrikaans uitdruk en sê Ignatenko het Suid-Afrika nog ’n paar keer daarna besoek, by geleentheid ook Potchefstroom. “Die laaste keer wat ek hom gesien het, was in Julie 2011 by ’n kongres by die UWK en hy het toe weer vertel van sy liefde vir Afrikaans en Suid-Afrika. Ons sal hom mis.”

Ignatenko het die eerste Russiese handboek oor Afrikaans geskryf, lesings oor taal en kultuur in Suid-Afrika gegee, asook oor Afrikaans en Nederlands.

Skryfwerk van hom het in Die Burger verskyn en hy het onder meer aan die radioprogram Die tale wat ons praat deelgeneem.

Hy het in 1987 sy loopbaan as dosent in Afrikaans by die Instituut van Afrika- en Asiatiese studies by die MSU begin, volgens Jordan en Carstens.

Ignatenko is op 14 September 1955 in Moskou gebore en het aan die MSU gestudeer. Sy hoofvak was Nederlands met Afrikaans as byvak. Voordat hy Afrikaans en Nederlands begin doseer het, het hy ’n tyd lank as gids en tolk by die Intourist-buro gewerk. Die laaste ruk was hy opnuut gids, tolk en vertaler.